top of page

Stilbaai - Skoonste / Groenste Dorp

Stilbaai Gemeenskapsforum het die SKONER STILBAAI aksie aangepak om Stilbaai die skoonste en groenste dorp in die land te maak. Die oogmerk is dat die aksie ‘n beweging moet word wat deur almal, organisasies sowel as individue, gedryf sal word, en wat hopelik mettertyd die hele Hessequa sal insluit. Daarby ondersteun ons die Hessequa Munisipaliteit se strewe om die Groenste Munisipaliteit in Suid Afrika te word.

Die Belangeforum het ‘n aantal kwessies geïdentifiseer wat aangespreek moet word om die doelwitte van die aksie te bereik. Tans is die belangrikste kwessies rommelstrooiery, vullissakke wat op sypaadjies gelos word, en die aanplant van bome in openbare gebiede en langs strate. Soos die projek vorder kan hierdie lys uitgebrei word.

Rommelstrooiery

Rommelstrooiery in sekere sleutelareas blyk die gemeenskap die meeste te pla. Dit is veral bosslapers wat langs hul staproetes mors, soos byvoorbeeld vanaf die Fynbossentrum na Jagersbosch en langs die rivier. ‘n Soortgelyke probleem, nie altyd bosslapers se skuld nie, vind plaas rondom wagplekke by bushaltes. Die Munisipaliteit het onderneem om sy skoonmaakaksies te verskerp. Dit sal die situasie verbeter maar nie die probleem oplos nie.

Die gemeenskap moet saamwerk om die skuldiges aan te spreek en almal se samewerking te verkry om dit te beëindig. Bosslapers is veral ‘n probleem aangesien klagtes oor rommelstrooiery toenemend gepaard gaan met klagtes oor die dreigende houding van sommige.

VULLISSAKKE OP STRATE

‘n Ander wesentlike probleem is die vuilgoedsakke wat veral oor naweke deur vakansiegangers op sypaadjies gelos word, waar dit deur honde, katte, meeue en ook bosslapers oopgeskeur en die inhoud deur die wind oor die omgewing versprei word.

Aanplant van Bome

Hessequa Munisipaliteit het in 2015 eerste prys gewen in die Nasionale Boomplant kompetisie, en is ook later in die jaar benoem as die Groenste Munisipaliteit in die Wes-Kaap. Die prysgeld vir hierdie toekennings is onder andere aangewend om bome aan te koop en en aan te plant in die #100 000 Bome veldtog.

Die Gemeenskapsforum ondersteun die Munisipaliteit in hierdie veldtog, en help hulle deur areas in Stilbaai te identifiseer vir aanplanting.

Stilbaai word skoner, maar dit is duidelik dat dit nog lank nie aanspraak kan maak om die skoonste dorp te wees nie. Jongensfontein het in die opsig reeds veel groter vordering gemaak, met inwoners wat strand- en ander gebiede skoon hou.

Dankie ook vir die lede van die publiek wat spesiale moeite doen om sekere areas op te ruim of skoon te hou. Onder die vaandel van Stilbaai Coastal Cleanup word honderde sakke vullis gereeld opgeruim. Duidelik moet daar nog baie opvoedingswerk gedoen word, onder ons besoekers sowel as onder plaaslike inwoners.

Ons vra weereens dat elkeen, individu, besigheid en organisasie, sorg dat sy naaste omgewing skoon is en bly. Waar daar besondere aandag nodig is, kontak asb vir Clifton Donald van Stilbaai Coastal Cleanup te 0824571135. Met die SKONER STILBAAI aksie verbeter ons die omgewing en ondersteun ons die Hessequa Munisipaliteit se strewe om die Groenste Munisipaliteit in die land te word.

bottom of page